-Kortverhaal deur Clayton Booysen

Gaan weg! dink Charles Morgan soos hy die houtdek hoor kreun van voetstappe. Dis te vroeg vir jou, wieokal jy is… “Naand Kaptein!”

“Naand Charlie. Nog laat by die stuur sien ek,” groet Harris Brown soos hy langs Charles kom staan en saam in die verte uitstaar.

Hulle loer agter die stuur uit oor die bemanning en eindelose blou van lug en see. Die Liberandum was daadwerklik ‘n skip waardig daarvan om hulle oor hierdie golwe te dra. Hy kyk op na die drie enorme houtpillare voor hom: die kruismas, hoofmas, voormas, wat soos steunstukke diep binne die romp geanker is en soos enorme dennebome bo die dek uitstrek.  Hierdie kaal pilare is elk met menige dwarspale gerib, ‘n naak skelet wanneer die katoenseile gelig word.

Charles dink aan die oorlewendes aan boort die skip, die mense wie hulle eintlik gevangenes behoort te noem.

“Het ons die regte ding gedoen, Harry?” Charles snuif mislik en laat die kaptein by hom die stuur oorneem. “Ek meen…ons is tog in ‘n oorlog met die Nederlanders.. as ons gevang word dat ons die vyand help…”

Harris bly op die see voor hom staar, sy greep om die stuur verstyf tot sy kneukels effens wit verkleur.

“Die vyand, sê jy? Charlie, hierdie Nederlanders was handelaars op roete om ‘n vrag spesery af te laai toe die Britse skip hulle onderskep het en uit die water geblaas het…Dit lyk nie vir my soos ‘n vyand nie.”

Charles kners sy tande, klein spiere bult deur sy gebruinde wange. “Ek weet, maar dis ‘n kak plan om hulle net so op die skip te laai en weg te seil asof niks gebeur het nie, veral wanneer die skip wat hulle gesink het nog in die omgewing is! As hulle uitvind dat ons, as mede Britte, die kaaskoppe wegsteek-”

“Moes ek hulle net daar in die water gelos het?” Harris Brown frons. “Daar in die water langs hulle brandende, half-gesinkte wrak?” Hy sug. “As ons nie hierdie besluit op daardie oomblik gemaak het nie…dan sou ek seker nie ‘n siel oorgehad het nie.”

Charles sien sy kaptein wiegel rond.

 “So dit maak nie saak hoe ons die besluit gemaak het nie,” gaan die kaptein voort. “Wat saak maak is dat ons die regte een gemaak het. Nou moet ons net met die gevolge worstel.”

Harris Brown sug en bly op die verte fokus, maar begin ongeduldig rond te wiegel. Toe dit lyk asof sy worsteling ‘n klimaks bereik, klap hy sy hande saam en bulder uit oor die dek. “Goed!  Kom ons gaan eet, dat ons gouer as later aan die seil kan kom.” Hy draai na Charles. “Gaan eet jy vanaand saam met ons gaste. Ek dink as jy weer in die gesigte kyk van die mense wie jy uit die water help trek het, sal dit dalk jou gewete troos.”

En daarmee los Charles onwilliglik die Kaptein alleen by die stuur. Hy het ‘n sappige perske van die kombuis gesteel en in die oorloopdek by die vlugtelinge aangesluit. Die lug daaronder was swaar en donker. Kerse het met ‘n warm geel tint teen lang rye houttafels geflikker, die res was in donkerte gelaat. Hy sit oorkant ‘n eensame dame, nie ouer as 25 nie. Charles sien haar arm is in ‘n katoen slinger toegedraai en haar wang rooi gekneus. Charles glimlag warm. “En wat is jou naam?”

Haar smaraggroen oë blink stadig en styg tot waar dit in syne vaskyk. “Klara Malan,” antwoord sy sag en laag. Klara het bloedrooi lippe en blonde krulle wat langs haar rooskleurige wange tot by haar borste strek.

Charles kyk af na haar gevlekte staal bakkie vol bloedige snye rooivleis en stomende ertjies. Hy frons met ‘n effense grinnik.  “Is jy nie honger nie?”  Hy sien nou eers die rooi kneusmerk onder haar oog.

“Nee,” antwoord haar stem stadig. “Ek het my eetlus verloor.”

Charles kom agter hy gaan nie veel meer geselskap uit haar trek nie en strek in die tussentyd na ‘n geduikte staalkoppie vol swart bier, die bleek bitterheid skuim om die rand en sweet klein druppels wat afloop en die handvatsel taai maak.

Hy vat ‘n sluk voordat hy regop skiet. Charles vroetel in sy sak totdat hy opgewonde die perske vir haar uitstrek.  “ ‘n Laaste vars enetjie voordat ons die res inlê.”

Klara neem dit in haar bleek handjies. Hy bestudeer haar soos sy die donsige geel vrug bekyk. Sy streel haar duim oor die rooi vlekke en giggel bitterlik vir haarself, voordat sy die vrug op die tafel laat val en die rooskleurige kneusmerk op haar wang met ‘n sagte hand bedek. Haar helder groen oë sak in skaamte.

Ek’s jammer, Klara. Hy dink vir ‘n oomblik en staan dan op. “Vat my hand. Ek wil jou iets wys.”

Hy kan sien sy wil nie, maar eventueel gee sy in en vat sy hand. Hy lei haar stadig by die gang af. “Gewoonlik verkies ek dit om saans alleen by die stuur te staan. Ek hou van dagdroom. Ek dink dit sal egter ‘n sonde wees om vannaand se sterre te ignoreer-”

BOOM!

Wolke swart rook bars deur die romp van die oorloopdek en spoeg houtpuin die lug vol.

“Die skip is hier! Hulle het ons ingehaal!” hoor hy ‘n gedempte stem deur die dek skree.

Onmoontlik!  dink Charles. Hy spring op sy goeie been en waai die stof uit sy oë. Hy sal nie waag om nou vir Klara deur die stof en rook te soek nie, uit ‘n verlamende vrees vir wat hy mag vind.

Hy grom hard en huppel oor die lengte van die oorloopdek, klim drie stelle trappe en roep die manne op die hoofdek tot aandag. “Manne!”  hy hyg en draai in die rondte tot waar hy ‘n fregat in die bewolkte verte agter hulle sien. “Manne! Maak gereed om te seil vir alles wat julle werd is! Hierdie is lewe of dood!”

Hy soek vir Harris Brown en vind sy kaptein teen die verpletterde syplank. “Harry!”  skree hy, maar die man hyg pynlik en rol terug op sy rug, sy bors en oë bedek met bloedige splinters. Charles draai en soek vir antwoorde in die chaos. “Harry…”  fluister hy uitasem, sy longe brand.  Ek kan nie… ek kan nie…

Hy val hard op sy knieë, ‘n steekpyn skiet by sy bobene op.  “Here help my…”

Charles voel ‘n sagte hand onder sy arm inwig en hom tot op sy voete probeer trek. Hy draai om en sien vir Klara wat hom met haar goeie arm tot sy voete probeer hys. Hy roep al sy wilskrag bymekaar en maak homself sterk, vir haar.

“Gaan julle ons oorhandig?” dring haar stem deur.

Charles kners op sy tande met pyn, maar forseer homself om te antwoord. “Nee…Ons gaan julle nou veilig hierdeur sien.”

Charles skuifel oor die dek en trek homself by die reling op, Klara kort op sy hakke. Hy kyk uit na die kaal maste voor hom en gryp aan die stuur. “Manne!  Op julle poste en span die seile!”

Die oorblywende manne klim die geweefde katoen nette wat van syplank tot hoofmas gespan is, ver bo die dek, soos goggas in ‘n web. Hulle stut hulself teen die dwarspale en blik oor stywe lyne tot waar hulle die seile loslaat.

Die geraamte van maste en dwarspale val nou blokkie vir blokkie die blou hemele voor Charles se oë toe, totdat ‘n akker se wit seile al is wat voor hom staan. Meteens ruk daar aan die hele bemanning soos Die Liberandum wind begin vang en hulle deur die onrustige waters trek, die klipper sny deur die golwe soos ‘n lem deur koue lug.  

Die fregat was nou binne dodelike skootafstand en herlaai vir nog ‘n rondte se pyn.

“Jou been,” skrik Klara. Hy kyk af en sien hoe sy kuitspier deur ‘n stuk gebreekte glas in twee bloedige lippe geskeur is. Klara kyk na haar toegedraaide arm. Sy byt haar lip en kreun saggies soos sy haar arm uit die katoen slinger trek en sy bloedige kuit verbind. Haar stem is desperaat. “Staan ons ‘n kans?”

Charles steun homself op een been, maar roep al sy wilskrag bymekaar soos hy sy hande stywer om die stuur wring. “Ons sal binnekort weet.”